O genade! Daar
praat ek my mond verby! Ek wag in spanning om te sien wat die kind se reaksie
is op die woorde wat sopas uit my mond gevlieg het. Ek het myself vergeet en
dit was uit voor ek myself kon keer. Gaan sy dit herhaal?! Ek wag... want kinders is mos sponsies.
Het julle al so
tipe ervaring gehad? Ek moet myself fyn dophou en gereeld selfondersoek instel
om te kyk wat in my lewe moet verander sodat ek nie ‘n hindernis is op die
geloofspad van ‘n kind nie, en nee, dit is nie maklik nie. God beloof wel in
Filippense 4:13 dat ek dit deur Sy krag kan doen. Ouers is ook net mense, maar
ons moet ook onthou dat ons nie net altyd ons kinders kan kritiseer oor dinge
wat in hulle lewens moet verander as ons nie bereid is om eers na onsself te
kyk nie. God stel meer belang in jou kind se karakter as wat jy doen, maar Hy
stel ook belang in jou karakter en watse voorbeeld jy vir jou kinders is. Kyk
bietjie in jou eie lewe. Watse gewoontes, verslawings en gedrag kan jy in jou
eie lewe identifiseer wat jy nie in jou kind se lewe sal wil sien nie? Glo jy dat jou swakpunte ook jou kinders sin
sal word?