Hierdie boodskap brei net weer uit op die onderwerp van hoe ons kinders groot maak. Is die fokus om altyd seker te maak ons kinders is gelukkig? Of is die fokus om seker te maak ons kinders word groot met die verstaan dat hulle lewe nie oor hulle eie geluk gaan nie, maar oor die openbaring en verheerliking van God.
Tuesday, September 25, 2012
Resepte flop soms
Alle ouers is perfek. Né? Dit is mos so? Geen ouer wat
hulself ‘n Christen noem maak ooit foute nie.
Ons verwag soms dit van onsself: volmaaktheid. As ouer het
jy soveel drome en ideale, jy mag nie ‘n fout maak nie. Dus het jy jou resepies
mooi agter mekaar. Elke stukkie advies wat jy in ouerskapboeke gevind het, het
jy mooi uiteengesit.
Maar is dit altyd so maklik? Ek besef in my eie lewe hoe
“resepies” nie met almal werk nie. Geen mens is dieselfde as ‘n ander nie en
dus is dit moeilik om net een manier van doen te hê. Met kinders werk dit net soos enige ander
verhouding, jy pas dit aan soos dit nodig is, volgens waar jy en die ander
persoon op daardie oomblik in julle lewens is.
Soos kinders ouer word, of deur verskillende fases van hul lewens gaan,
moet die verhouding aangepas word. Dit is ook belangrik om te onthou dat dit wat
met jou eerste kind gewerk het nie noodwendig met jou tweede kind sal werk nie,
en dit is okei, jy kan aanpas. Ek glo God het dit juis so gemaak om jou as ouer
‘n geleentheid te skep om te groei as mens; om jou kreatiwiteit bietjie in te
span.
Ons noem hierdie proses ‘n herstel- en instandhoudingsplan. Kan
jy jouself indink dat jy jou tiener nog steeds moet behandel asof hulle tien
is? Nooit! Dit sal net nie werk nie!
Daarom is dit belangrik om ‘n ogie te hou op die gesondheid van jul
verhouding en dit daar volgens aan te pas.
Kan jy die oomblik onthou toe jy een van jou “resepies” geflop het? Of die oomblik toe jy besef jy moet vir jou
tweede kind ‘n totale ander “game-plan” uit werk as waaraan jy gewoond is?
Vertel ons bietjie van julle eie ervarings met hierdie die konsep van
instandhouding. En onthou: Dit is okei om nie perfek te wees nie, God sal
sorg.
Wednesday, September 19, 2012
Luister tog net!
“Ja, wat was jy
besig om te sê?”, “Nee, niks, los dit, julle luister in elk geval nie”, “Ag,
moenie nou so wees nie toe!” “Nee, dis mos nie belangrik nie.”
Het jy al so scenario beleef? Jou kind is besig om jou ‘n storie te vertel en skielik vang ‘n ander gedagte jou; jy gesels sommer gou-gou daaroor, net om te verhoed dat jy dit weer vergeet. En hier wil jou kind skielik nie verder praat nie. Jy het mos net gou jou sê gesê? Dit het skaars ‘n minuut se tyd geneem, en nou kan jou kind met hul storie aan gaan, maar nee... Die kind ervaar hierdie situasie heeltemal anders; hulle voel op hierdie oomblik dat dit wat hulle nou gedeel het, geen waarde vir jou het nie, jy luister nie regtig nie. Hulle sê dalk dat dit nie belangrik is nie, maar vir hulle is dit. Word ons vrymoedigheid nie ook gesteel as ons voel iemand luister nie terwyl ons praat nie?
Om hegte
verhoudings met kinders te bou moet jy vir hulle die omgewing skep om iets met
jou te deel en jou onverdeelde aandag aan hulle te gee in daardie oomblik. Is
dit nie tog wat ons verwag nie? As jy weet iemand het nie voorheen na jou
geluister oor iets wat vir jou belangrik was nie, hoe kan hulle verwag dat jy
weer iets met hulle moet deel? Hoe belangrik is jy vir hulle? Dit is iets wat ek
gereeld hoor by die skool waar ek bedien. Kinders kom vra advies oor hoe om met
hulle ouers te praat! Hier is iets wat ek in my eie lewe agter gekom het: As
gevolg van situasies waar ek in die middel van ‘n storie afgesny is, het ek
begin twyfel het in die waarde van my eie opinie. Ek raak soms baie stil tussen
mense omdat ek nie glo dat ek ‘n waardevolle bydrae aan ‘n gesprek kan bring
nie. En waar kom dit vandaan? Hoe anders sal jou kind wees as jy regtig die tyd
neem om eers klaar te luister voordat jou gedagtes net uit jou mond uit vlieg?
Tuesday, September 11, 2012
Ek gaan jou net hier los!
“Jy beter onmiddelik begin om
jouself te gedra of ek los jou net hier!”
Ek het onlangs opgelet hoe my
sussie met haar dogtertjie gepraat het toe sy haar minder soet gedra het. Die
gedrag wat pla was aangespreek, maar die onvoorwaardelike liefde was duidelik
gemaak deur my sus se versekering, “Ek sal jou nooit los nie”. Sy het nie eers
gedreig om haar te los nie, dit was ‘n spontane herinnering van haar liefde. Dit
was vir my so mooi gewees.
Die vraag is nie
óf ons verhoudings met ons kinders
getoets gaan word nie, maar wanneer.
Hoe verhoed mens dat jou kinders dan in jou liefde sal twyfel? Volgens Chip Ingram, sê dit vir hulle. Weer.
En weer. En weer. Al voel jy dit nie op daardie oomblik nie, omdat jy so
woedend is. Sê dit vir hulle, want dit bly steeds ‘n feit.
Op watter maniere verseker jy jou kind van jou onvoorwaardelike liefde?
Thursday, September 6, 2012
Kinders, Tieners en gesinne...God gebruik ons as City Changers!
"Wie is ek Here dat U my sal gebruik om 'n verskil te maak? Ek is klein, dalk nog net 'n kind, maar in my hart het ek 'n woord. 'n Woord vir my skool, vir my vriende, vir my gemeenskap, vir ons stad! Ek is 'n City Changer, 'n agent van verandering geroep om die heerlikheid van God uit te leef en te openbaar in hierdie stad waarin ek bly."
Kyk na hierdie drie stories van hoe God kinders, tieners en gesinne gebruik om Sy koninkryk te vestig in ons stad.
Musiek "Rooftops" deur Jesus Culture
Monday, September 3, 2012
Moenie kritiseer - Inspireer!
“Hou net op met
daardie geraas!” , “Na watse gemors luister jy?” Klink dit bekend? Ek en ‘n vriendin het in die middae begin
stap en maak toe een middag die interessantste ontdekking. Daar in my straat, is 5 tieners besig om
musiek te maak soos ‘n regte egte “garage band”, nogal in ‘n garage net soos in
die flieks. Dit laat my toe wonder, wat is hulle ouers se opinie hieroor, dink
hulle dis oulik of is dit maar net ‘n manier om van die geraas in hulle huise ontslae
te raak?
Iets wat my nogal
laat dink het in Chip Ingram se boek was toe hy vertel van ‘n seun wat in
musiek begin belangstel het. Sy ouers het nie van die styl van die musiek gehou
nie, en in plaas daarvan om sy seun se smaak te kritiseer het sy pa dit uit ‘n
ander hoek benader: hy het betrokke geraak.
Pa en seun het saam begin musiek maak en uiteindelik vir die ander seun
ook ‘n tromstel gekoop. Saam het die manne hul eie “band” gehad. Die pa het ‘n
potensiele negatiewe situasie vermy deur betrokke te raak en ‘n positiewe impak
in albei sy seuns se lewens gemaak. Hy het boonop op so manier verhoudings met
sy kinders gebou wat sal hou. Ek was verstom deur sy wysheid. Watter ouer dink
daaraan om hul eie opinie te sluk en eerder hul lewe neer te lê en in hul
kinders se stokperdjies betrokke te raak? Is daar areas in jou kinders se
lewens waar jy betrokke kan raak en jou kinders inspireer en sodoende ‘n
sterker verhouding te bou?
Subscribe to:
Posts (Atom)