“Hou net op met
daardie geraas!” , “Na watse gemors luister jy?” Klink dit bekend? Ek en ‘n vriendin het in die middae begin
stap en maak toe een middag die interessantste ontdekking. Daar in my straat, is 5 tieners besig om
musiek te maak soos ‘n regte egte “garage band”, nogal in ‘n garage net soos in
die flieks. Dit laat my toe wonder, wat is hulle ouers se opinie hieroor, dink
hulle dis oulik of is dit maar net ‘n manier om van die geraas in hulle huise ontslae
te raak?
Iets wat my nogal
laat dink het in Chip Ingram se boek was toe hy vertel van ‘n seun wat in
musiek begin belangstel het. Sy ouers het nie van die styl van die musiek gehou
nie, en in plaas daarvan om sy seun se smaak te kritiseer het sy pa dit uit ‘n
ander hoek benader: hy het betrokke geraak.
Pa en seun het saam begin musiek maak en uiteindelik vir die ander seun
ook ‘n tromstel gekoop. Saam het die manne hul eie “band” gehad. Die pa het ‘n
potensiele negatiewe situasie vermy deur betrokke te raak en ‘n positiewe impak
in albei sy seuns se lewens gemaak. Hy het boonop op so manier verhoudings met
sy kinders gebou wat sal hou. Ek was verstom deur sy wysheid. Watter ouer dink
daaraan om hul eie opinie te sluk en eerder hul lewe neer te lê en in hul
kinders se stokperdjies betrokke te raak? Is daar areas in jou kinders se
lewens waar jy betrokke kan raak en jou kinders inspireer en sodoende ‘n
sterker verhouding te bou?
No comments:
Post a Comment