“Ja, wat was jy
besig om te sê?”, “Nee, niks, los dit, julle luister in elk geval nie”, “Ag,
moenie nou so wees nie toe!” “Nee, dis mos nie belangrik nie.”
Het jy al so scenario beleef? Jou kind is besig om jou ‘n storie te vertel en skielik vang ‘n ander gedagte jou; jy gesels sommer gou-gou daaroor, net om te verhoed dat jy dit weer vergeet. En hier wil jou kind skielik nie verder praat nie. Jy het mos net gou jou sê gesê? Dit het skaars ‘n minuut se tyd geneem, en nou kan jou kind met hul storie aan gaan, maar nee... Die kind ervaar hierdie situasie heeltemal anders; hulle voel op hierdie oomblik dat dit wat hulle nou gedeel het, geen waarde vir jou het nie, jy luister nie regtig nie. Hulle sê dalk dat dit nie belangrik is nie, maar vir hulle is dit. Word ons vrymoedigheid nie ook gesteel as ons voel iemand luister nie terwyl ons praat nie?
Om hegte
verhoudings met kinders te bou moet jy vir hulle die omgewing skep om iets met
jou te deel en jou onverdeelde aandag aan hulle te gee in daardie oomblik. Is
dit nie tog wat ons verwag nie? As jy weet iemand het nie voorheen na jou
geluister oor iets wat vir jou belangrik was nie, hoe kan hulle verwag dat jy
weer iets met hulle moet deel? Hoe belangrik is jy vir hulle? Dit is iets wat ek
gereeld hoor by die skool waar ek bedien. Kinders kom vra advies oor hoe om met
hulle ouers te praat! Hier is iets wat ek in my eie lewe agter gekom het: As
gevolg van situasies waar ek in die middel van ‘n storie afgesny is, het ek
begin twyfel het in die waarde van my eie opinie. Ek raak soms baie stil tussen
mense omdat ek nie glo dat ek ‘n waardevolle bydrae aan ‘n gesprek kan bring
nie. En waar kom dit vandaan? Hoe anders sal jou kind wees as jy regtig die tyd
neem om eers klaar te luister voordat jou gedagtes net uit jou mond uit vlieg?
No comments:
Post a Comment