“Wag net totdat
jy jou eie kinders het, dan praat ons weer.”
Het jy ooit
hierdie geveg met een van jou ouers gehad?
En? Is jy toe ‘n “beter” ouer as hulle, of is jy dieselfde? Ons verstaan nie altyd ons ouers se besluite
totdat ons self in daardie posisie gesit word nie. Ek is glad nie iemand wat daarvan hou om in
‘n boksie gesit te word wat sê “Dit is hoe jy is” nie, maar Chip Ingram praat
in sy boek van vier veralgemeende ouerskap style wat nogal sin maak, naamlik:
Die Toegeeflike ouer: Hierdie ouers is hoog in liefde en laag
in dissipline. Hul kinders lei gewoonlik aan lae selfbeeld omdat daar geen
vaste perke gestel word nie.
Die Nalatige ouer: Hierdie ouers toon baie min liefde en pas
ook nie genoeg dissipline toe nie. Hierdie kinders word groot sonder vaste
verhoudings met hul ouers en voel verwerp.
Die Outoritêre ouer: Hulle sukkel om liefde te toon en fokus
heeltemal te sterk op dissipline. Hulle kinders rebelleer gewoonlik die minuut
wat hulle uit hul ouers se huise trek.
Die Gesaghebbende ouer: Hulle is ‘n barmhartige dog ferm gesag.
Hulle is sorgsaam en het duidelike grense, maar is ook liefdevol.
Ons almal wil die
Gesaghebbende ouer wees, maar niemand is ooit die hele tyd perfek nie. As jy
dan na die ander drie kyk, watter van daardie elemente kan jy dalk in jou eie lewe
raaksien?
No comments:
Post a Comment