Tuesday, November 27, 2012

Hy huil, jy voel skuldig. Wat nou?


So. Jou kind het so ver gegaan om ‘n pakslae te verdien, hy huil, jy voel skuldig. Wat nou?
Chip Ingrim se voorstel het my nou weer onkant gevang en ek moes ‘n rukkie dink oor hoe ek hieroor voel. 

Wat hy met sy seun  gedoen het na ‘n pakslae was om hom op sy skoot te laat sit en klaar huil. Daarna het hy hom weer gevra wat hy verkeerd gedoen het en of hy reg is om vir hom (Chip) en God jammer te sê. Sy seun het gewoonlik besef dat daar nog iemand buiten sy pa en God vir wie hy moet jammer sê, gewoonlik ‘n boetie of sussie en dit dan gedoen.  Sodra dit verby is sal Chip weer met sy seun gesit het en sy liefde vir hom bevestig.

Kinders moet die pakslae met hul gedrag assosieer en nie met hulle waarde nie. Hulle moenie om jou rondsluip met skuldgevoelens en minderwaardigheid nie. Dissipline gaan mos oor jou kind se gedrag en nie hul identiteit nie.  Stem jy saam?  Sal jy hierdie metode met jou kinders toepas? 

Monday, November 19, 2012

Ek raak nou moeg gepraat


Jou kind is weer besig om hulself te wangedra. Kom ons sê hul is op die brink van ‘n “tantrum”.  Jy het reeds voorheen gewaarsku teen sulke gedrag en ‘n gesprek gehad om hul verantwoordelikheid vir hul gedrag te leer; so wat nou? 

Eerstens, moenie jou kind in die verleentheid bring voor hul vriende of ander mense nie. Al wat jy bereik is om jou kind skaam te laat voel. Gaan eerder na ‘n private plek toe soos ‘n slaapkamer of badkamer waar jy jou kind se gedrag kan aanspreek. 

Iets wat Chip voorstel om te doen wat vir my interessant is, is om jou hartseer oor jou kind se gedrag vir jou kind te wys. Hy sê hy het al menigde kere trane laat rol oor hul gedrag. Chip sê dit demonstreer aan kinders God se hart wanneer ons sondig. God swaai nie sy vuiste rond elke keer as ons iets verkeerds doen nie, inteendeel hy treur soos ‘n liefdevolle ouer. Sal jy voor jou kind huil oor hul gedrag? Voel dit vir jou manipulerend of produktief?

Wanneer al hierdie voorstelle nie werk nie, sê Chip, is ‘n pakslae in orde. Hy stel voor om te slaan met ‘n polsbeweging. Die doel van ‘n pakslae is om vir ‘n kind vir ‘n klein rukkie ‘n pynlike afskrikmiddel vir verkeerde gedrag te verskaf; nié om te beseer nie. 

Met al die omstredenheid rondom fisiese tugtiging deesdae wil ek graag hoor wat julle opinie hieroor is.

Thursday, November 15, 2012

Wednesday, November 14, 2012

Drome wat waar word...klimrame...en 'n nuwe era van FUN!


En so word 'n droom waar!!!!!!!!!! Hulle bou vandag klimrame vir die kids!!!!!!! Almal is welkom om deur die loop van die dag te kom kyk....

Monday, November 12, 2012

Dis nie wié jy is nie, dis wát jy doen


Ek weet nie van julle nie, maar ek sukkel om te weet wanneer om ‘n kind te dissiplineer, en hoe. Ek is meeste van die tyd te bang om ‘n “move” te maak, want ek is bang ek oorreageer.  Chip se advies om die situasie te asseseer is die volgende:

Eerstens, praat met die kind en waarsku hom.  Bevestig of die fout opsetlik was of ‘n onwetende misstap.  ‘n Duidelike waarskuwing oor die gedrag sal help om gevaar te vermy. Toepassing van dissipline sal volg indien praat nie werk nie. 

Tweedens, moet daar verantwoordelikheidsbesef geskep word.  Ek weet die eerste ding wat ons almal altyd wil weet is “hoekom”, maar probeer om dit nie te gebruik nie, dit maak die kind onmiddelik verdedigend en dit is wanneer hulle hulself begin beskerm.

‘n Kortlikse voorbeeld van ‘n positiewe gesprek is soos volg:

 “Jannie, wat het jy verkeerd gedoen?”

“Niks. Almal het dit gedoen.”

“Wat het jy verkeerd gedoen? Wat was ons ooreenskoms?”

“Ek mag nie soontoe gegaan het nie. Ek was ongehoorsaam.” 

Die doel is om jou kind te leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat hy gedoen het.  Iets wat ek al by die skool beleef het is dat kinders sal vra of jy hulle nog lief het. Bevestig jou liefde vir jou kind en maak dit duidelik dat jou probleem by die gedrag lê en nié by hulle identiteit nie. 

Hoe sal jou kinders reageer as jy só met hulle begin praat?

Wednesday, November 7, 2012

Anton van Wouw KIDSGAMES


Ek nooi elkeen om deel te wees van hierdie wonderlike week saam met die kinders van Anton van Wouw Laerskool. Hierdie week is vanaf 3-6 Desember, Maandag tot Donderdag, 08:30-11:00 elke dag. Ek wil jou vra om my asb te laat weet waar kan ons jou naam indeel. Ons het 'n drama groep, worship team, Speletjies team en kleingroep span. Ons benodig sowat 60 kleingroep leiers vir elke dag, so nooi asb jou vriende ook om deel te wees van die week.
Laat weet ons dus waar sit ons jou naam op en ook op watter dae is jy beskikbaar. Ons benodig spesifiek kleingroep leiers wat vir die hele week verhouding wil bou met 'n sekere groep kinders.
KOM WEES DEEL VAN HIERDIE BELEGGING IN KINDERS SE LEWENS!

Monday, November 5, 2012

Ek is seker jy sukkel nooit...? Straf jy of dissiplineer jy?


Ek is seker jou kind het jou nog nooit frustreer met hulle gedrag nie. Jy hoef nog nooit jou stem te verhef het omdat jou kind net nie wil luister nie. Nee ek is seker jy sukkel nie met kinders wat aanhou doen wat hulle wil al het hulle reeds hoog en laag beloof dit was die laaste keer.  Jy het seker ook glad nie daardie seer gevoel van verraaiing al beleef nie. En jy sal nooit vanuit jou emosie op tree nie. Nee, ek is seker dis net ek wat sukkel om myself kalm te hou en dink voordat ek optree.

 
Die samelewing sê al lank vir ons: Jy moenie jou kinders STRAF nie, jy moet hulle DISSIPLINEER, maar wat beteken dit? Wat is dan die verskil?  Straf leer vir die kind dat hy vir oortredings moet vergeld. Dit is negatief gefokus op die verlede, bv, “Jy het dit, dit en dat verkeerd gedoen en nou gaan jy boet”. Dit veroorsaak skuldgevoelens. In kort, dit is heeltemal teenstrydig is met die teologie van God se genade.

Dissiplineer, aan die ander kant, is meer soos positiewe rigting aanwysing en toekoms gefokus. Dit leer kinders dat hulle optrede wel gevolge het, maar nie dat hulle daarvoor hoef te vergeld nie.

Hoe kan ons ‘n verhouding met God hê op gronde van genade en met ons kinders op grond van oordeel? Dit was vir my ‘n “eye-opener” toe ek dit die eerste keer lees. Ek voel hierdie is ‘n onderwerp waaroor daar nog baie te sê kan word. Wat dink julle van die stellings wat gemaak is?

Straf jy of dissiplineer jy?

Wednesday, October 31, 2012

Ek wil nooit soos jy wees nie....


“Ek wil asb net nooit soos jy wees nie! Ek sal ‘n beter ouer wees as jy!” 

“Wag net totdat jy jou eie kinders het, dan praat ons weer.”

Het jy ooit hierdie geveg met een van jou ouers gehad?  En? Is jy toe ‘n “beter” ouer as hulle, of is jy dieselfde?  Ons verstaan nie altyd ons ouers se besluite totdat ons self in daardie posisie gesit word nie.  Ek is glad nie iemand wat daarvan hou om in ‘n boksie gesit te word wat sê “Dit is hoe jy is” nie, maar Chip Ingram praat in sy boek van vier veralgemeende ouerskap style wat nogal sin maak, naamlik:

Die Toegeeflike ouer: Hierdie ouers is hoog in liefde en laag in dissipline. Hul kinders lei gewoonlik aan lae selfbeeld omdat daar geen vaste perke gestel word nie.

Die Nalatige ouer: Hierdie ouers toon baie min liefde en pas ook nie genoeg dissipline toe nie. Hierdie kinders word groot sonder vaste verhoudings met hul ouers en voel verwerp.

Die Outoritêre ouer: Hulle sukkel om liefde te toon en fokus heeltemal te sterk op dissipline. Hulle kinders rebelleer gewoonlik die minuut wat hulle uit hul ouers se huise trek. 

Die Gesaghebbende ouer: Hulle is ‘n barmhartige dog ferm gesag. Hulle is sorgsaam en het duidelike grense, maar is ook liefdevol. 

Ons almal wil die Gesaghebbende ouer wees, maar niemand is ooit die hele tyd perfek nie. As jy dan na die ander drie kyk, watter van daardie elemente kan jy dalk in jou eie lewe raaksien?

Friday, October 26, 2012

Christmas Wishlist vir ons REVAMP!!!

En so begin ons REVAMP projek vir ons Kinderbediening. Die eerste fase van hierdie projek is om die muur van ons speel area te verf. Die tema vir ons speel area is "His Kingdom".
Hier is die idee waar rondom ons die muur gaan verf. Vanaf Woensdag 31 Oktober tot 17 Novemeber gaan ons die muur verf en ook ons ingange na die bedieninge oor doen.

Ons benodig nog die volgende vir hierdie projek:

Ons wenslysie:
3 Laptops
Speletjies vir die kinders
Kostuums soos prinses krone, prins swaarde ens.
Verskillende kleure matte
Groot verf kwaste
Bakke om die verf in te meng
3 Room deviders
Pot Plante

Mense:
Ons benodig ook iemand wat ons met die ontwerp van die prente kan help en ook mense met kuns talente om ons te help om hierdie muur in 'n sprokie te omskep.

Hierdie is net die begin van ons REVAMP avontuur!

Kontak vir Jani (janib@doxadeo.co.za) of vir Magriet (magriete@doxadeo.co.za)

Monday, October 22, 2012

Leer ek my kinders reg?


“Nee. Jy weet dit is verkeerd, jy kannie dit doen nie.”

“Maar Mamma, hoekom nie?”

Soos ons ouer word is ons geneig om ons ouers se oortuigings aan te neem as ons eie. Nie in alle gevalle nie, maar ek het al menigde kere agter gekom hoe van my belangrikste oortuigings van my ouers af kom en kan met dankbaarheid sê dit is Bybels. Net so het ek al gesien hoe ander mense ook sterk oortuigings by hul ouers ge-“erf” het waarvoor ek glad nie ‘n basis in die Bybel kan kry nie.  Dus is dit vir ons ook belangrik om seker te maak waar ons oortuigings vandaan kom voordat ons ons kinders daarmee wil groot maak.   

Hoe ontwikkel jy in jou kinders Bybelse oortuigings van reg en verkeerd? Ons moet eers vir ons kinders van reg en verkeerd leer en seker maak dat hulle die liefde agter die onderrig verstaan. Laastens het hulle wysheid nodig oor hoe om dit in hul daaglikse lewens toe te pas. 

Om Chip Ingram aan te haal: “Kennis + Liefde + Wysheid = Oortuigings”.

Hierdie was vir my ‘n baie interessante konsep in Chip Ingrim se boek oor suksesvolle ouerskap:  Ons moet ons kinders so groot maak sodat ons hulle eendag in Jesus se sorg kan oorgee en vertrou dat hulle van nature Bybelse besluite sal neem en weet hoekom hulle dit doen. Is jy besig om Bybelse oortuigins in jou kinders in te bou?

Friday, October 19, 2012

REVAMP! REVAMP!


Oktober en November Maand is REVAMP by ons kinderbediening. By J-Zone en Little Zone omskep ons die hele agterste area in 'n speel area vir ons kinders. Hou gerus hierdie plek dop om te sien hoe vorder ons. Hier is solank 'n paar fotos van hoe dit op die oomblik lyk en ook die klimrame wat ons beplan vir die kinders.
 
Wees ook op die uitkyk om te registreer vir ons nuwe registrasie sisteem- Go 2 Data- elke ouer gaan asb moet registreer hiervoor.


J-Zone Klimraam



Little Zone Klimraam




Tuesday, October 16, 2012

Gehoorsaamheid – ‘n kanaal vir God se seën

Gehoorsaamheid; ‘n Baie sensitiewe saak in vandag se samelewing en ‘n groot probleem in skole. Dit wil vir my voorkom asof baie ouers te sleg voel om hul kinders na ‘n lang dag te dissiplineer en verwag dan van skole om hul kinders se dissipline te handhaaf. God gee net een spesifieke opdrag aan kinders in die Bybel: Wees gehoorsaam aan jou ouers. Dit is die enigste gebod met ‘n belofte en Paulus let ons weer daarop in Efesiërs 6:1 “Kinders, omdat julle in die Here glo, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees. Dit is mos die regte ding om te doen.”  Neem ons wel hierdie instruksie ernstig genoeg op?  
Hoe streng is jy met jou kinders se dissipline? Laat jy soms toe dat hulle jou perke  manipuleer? Kinders moet hul ouers gehoorsaam nie bloot uit vrees nie, maar uit liefde, vertroue, en respek vir die outoriteit wat God aan hul ouers gegee het. 
 
Gehoorsaamheid beteken om onderdanig te wees aan die woorde van iemand anders, of dit jou ouers of God is. Jou kinders se gesindheid teenoor jou sal waarskynlik hul gesindheid teenoor God in hul lewens weerspieël. God gebruik gehoorsaamheid as ‘n kanaal vir Sy seëninge in ons lewens. Is hierdie nie waarvoor ons ons kinders oplei wanneer ons hulle dissipline leer nie: om God se stem te kan hoor en gehoorsaam, en nie op enige van Sy seëninge uit te mis nie?  Watse maniere werk in julle huis om dissipline te leer?

Wednesday, October 10, 2012

My droom vs God se droom

Dit het begin met ‘n hartklop. Dit eerste keer wat jy daardie flikker op die sonaar se skerm  sien begin jy al droom oor jou kind:  Hul naam, talente, skool, universiteit, werk. In  jou hart begin jy jou kind se lewe beplan. Dit is alles lekker, maar my vraag is dit: Wie se droom is dit? Is dit joune, jou kind sin of God sin? 
Psalm 139:16 sê “U het my gesien voor ek gebore is. In U boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.” God weet presies op watter manier jou kind die meeste eer aan Sy naam kan bring. Hy ken jou kind beter as jy – vertrou jy God met jou kind se lewenspad?  Ek is seker my ouers wou al menigde male die horries kry oor my pad met die Here – ek het al in vier verskillende rigtings gewerk en droom oor nog twee! En tog vertrou hulle nog.
 
God se droom oor ons lewens is altyd soveel groter as wat ons kan droom. Die Woord sê self so in Efesiërs 3:20 staan daar “God moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.” Ja, Hy nooi ons uit om saam met Hom te droom, maar vra ons Hom wat Sy droom is voordat ons op ons eie ‘n koers in slaan?  Bid jy reeds dat God jou kind se roeping aan jou kind sal openbaar?

Tuesday, September 25, 2012

Gelukkige kinders beteken nie noodwendig Heilige kinders nie...

Hierdie boodskap brei net weer uit op die onderwerp van hoe ons kinders groot maak. Is die fokus om altyd seker te maak ons kinders is gelukkig? Of is die fokus om seker te maak ons kinders word groot met die verstaan dat hulle lewe nie oor hulle eie geluk gaan nie, maar oor die openbaring en verheerliking van God.
 
 

Resepte flop soms


Alle ouers is perfek. Né? Dit is mos so? Geen ouer wat hulself ‘n Christen noem maak ooit foute nie.

Ons verwag soms dit van onsself: volmaaktheid. As ouer het jy soveel drome en ideale, jy mag nie ‘n fout maak nie. Dus het jy jou resepies mooi agter mekaar. Elke stukkie advies wat jy in ouerskapboeke gevind het, het jy mooi uiteengesit.

Maar is dit altyd so maklik? Ek besef in my eie lewe hoe “resepies” nie met almal werk nie. Geen mens is dieselfde as ‘n ander nie en dus is dit moeilik om net een manier van doen te hê.  Met kinders werk dit net soos enige ander verhouding, jy pas dit aan soos dit nodig is, volgens waar jy en die ander persoon op daardie oomblik in julle lewens is.  Soos kinders ouer word, of deur verskillende fases van hul lewens gaan, moet die verhouding aangepas word. Dit is ook belangrik om te onthou dat dit wat met jou eerste kind gewerk het nie noodwendig met jou tweede kind sal werk nie, en dit is okei, jy kan aanpas. Ek glo God het dit juis so gemaak om jou as ouer ‘n geleentheid te skep om te groei as mens; om jou kreatiwiteit bietjie in te span.

Ons noem hierdie proses ‘n herstel- en instandhoudingsplan. Kan jy jouself indink dat jy jou tiener nog steeds moet behandel asof hulle tien is? Nooit! Dit sal net nie werk nie!  Daarom is dit belangrik om ‘n ogie te hou op die gesondheid van jul verhouding en dit daar volgens aan te pas.  Kan jy die oomblik onthou toe jy een van jou “resepies” geflop het?  Of die oomblik toe jy besef jy moet vir jou tweede kind ‘n totale ander “game-plan” uit werk as waaraan jy gewoond is? Vertel ons bietjie van julle eie ervarings met hierdie die konsep van instandhouding. En onthou: Dit is okei om nie perfek te wees nie, God sal sorg. 

Wednesday, September 19, 2012

Luister tog net!


“Ja, wat was jy besig om te sê?”, “Nee, niks, los dit, julle luister in elk geval nie”, “Ag, moenie nou so wees nie toe!” “Nee, dis mos nie belangrik nie.”

Het jy al so scenario beleef? Jou kind is besig om jou ‘n storie te vertel en skielik vang ‘n ander gedagte jou; jy gesels sommer gou-gou daaroor, net om te verhoed dat jy dit weer vergeet. En hier wil jou kind skielik nie verder praat nie. Jy het mos net gou jou sê gesê? Dit het skaars ‘n minuut se tyd geneem, en nou kan jou kind met hul storie aan gaan, maar nee... Die kind ervaar hierdie situasie heeltemal anders; hulle voel op hierdie oomblik dat dit wat hulle nou gedeel het, geen waarde vir jou het nie, jy luister nie regtig nie. Hulle sê dalk dat dit nie belangrik is nie, maar vir hulle is dit. Word ons vrymoedigheid nie ook gesteel as ons voel iemand luister nie terwyl ons praat nie?

Om hegte verhoudings met kinders te bou moet jy vir hulle die omgewing skep om iets met jou te deel en jou onverdeelde aandag aan hulle te gee in daardie oomblik. Is dit nie tog wat ons verwag nie? As jy weet iemand het nie voorheen na jou geluister oor iets wat vir jou belangrik was nie, hoe kan hulle verwag dat jy weer iets met hulle moet deel? Hoe belangrik is jy vir hulle? Dit is iets wat ek gereeld hoor by die skool waar ek bedien. Kinders kom vra advies oor hoe om met hulle ouers te praat! Hier is iets wat ek in my eie lewe agter gekom het: As gevolg van situasies waar ek in die middel van ‘n storie afgesny is, het ek begin twyfel het in die waarde van my eie opinie. Ek raak soms baie stil tussen mense omdat ek nie glo dat ek ‘n waardevolle bydrae aan ‘n gesprek kan bring nie. En waar kom dit vandaan? Hoe anders sal jou kind wees as jy regtig die tyd neem om eers klaar te luister voordat jou gedagtes net uit jou mond uit vlieg?   

Tuesday, September 11, 2012

Ek gaan jou net hier los!


“Jy beter onmiddelik begin om jouself te gedra of ek los jou net hier!” 

 Het jy al ooit so tipe dreigement aan jou kinders gemaak?  Dit is totaal onwaar, jy weet sal dit nooit doen nie, maar op ‘n subtiele manier impliseer dit dat jy jou kind meer lief het wanneer hulle soet is. ‘n Ouer weet dit is nie waar nie, maar weet jou kinders werklik hoe onvoorwaardelike liefde lyk? Weet jou kind dat hulle niks kan doen om hulle van jou liefde te skei nie?  God herinner ons dat niks ons kan skei van Sy liefde nie in Rom 8:39, Hy het dit vir ons gesê voordat ons gevra het. Is dit nie dan die ouer se plig om hul kind te verseker van hul liefde voordat die kind iets aanvang waaroor hulle te bang is om te praat nie?

Ek het onlangs opgelet hoe my sussie met haar dogtertjie gepraat het toe sy haar minder soet gedra het. Die gedrag wat pla was aangespreek, maar die onvoorwaardelike liefde was duidelik gemaak deur my sus se versekering, “Ek sal jou nooit los nie”. Sy het nie eers gedreig om haar te los nie, dit was ‘n spontane herinnering van haar liefde. Dit was vir my so mooi gewees.

Die vraag is nie óf ons verhoudings met ons kinders getoets gaan word nie, maar wanneer. Hoe verhoed mens dat jou kinders dan in jou liefde sal twyfel?  Volgens Chip Ingram, sê dit vir hulle. Weer. En weer. En weer. Al voel jy dit nie op daardie oomblik nie, omdat jy so woedend is. Sê dit vir hulle, want dit bly steeds ‘n feit.
 
Op watter maniere verseker jy jou kind van jou onvoorwaardelike liefde?

Thursday, September 6, 2012

Kinders, Tieners en gesinne...God gebruik ons as City Changers!



"Wie is ek Here dat U my sal gebruik om 'n verskil te maak? Ek is klein, dalk nog net 'n kind, maar in my hart het ek 'n woord. 'n Woord vir my skool, vir my vriende, vir my gemeenskap, vir ons stad! Ek is 'n City Changer, 'n agent van verandering geroep om die heerlikheid van God uit te leef en te openbaar in hierdie stad waarin ek bly."

Kyk na hierdie drie stories van hoe God kinders, tieners en gesinne gebruik om Sy koninkryk te vestig in ons stad.

Musiek "Rooftops" deur Jesus Culture

Monday, September 3, 2012

Moenie kritiseer - Inspireer!


“Hou net op met daardie geraas!” , “Na watse gemors luister jy?” Klink dit bekend?  Ek en ‘n vriendin het in die middae begin stap en maak toe een middag die interessantste ontdekking.  Daar in my straat, is 5 tieners besig om musiek te maak soos ‘n regte egte “garage band”, nogal in ‘n garage net soos in die flieks. Dit laat my toe wonder, wat is hulle ouers se opinie hieroor, dink hulle dis oulik of is dit maar net ‘n manier om van die geraas in hulle huise ontslae te raak?
 
Iets wat my nogal laat dink het in Chip Ingram se boek was toe hy vertel van ‘n seun wat in musiek begin belangstel het. Sy ouers het nie van die styl van die musiek gehou nie, en in plaas daarvan om sy seun se smaak te kritiseer het sy pa dit uit ‘n ander hoek benader: hy het betrokke geraak.  Pa en seun het saam begin musiek maak en uiteindelik vir die ander seun ook ‘n tromstel gekoop. Saam het die manne hul eie “band” gehad. Die pa het ‘n potensiele negatiewe situasie vermy deur betrokke te raak en ‘n positiewe impak in albei sy seuns se lewens gemaak. Hy het boonop op so manier verhoudings met sy kinders gebou wat sal hou. Ek was verstom deur sy wysheid. Watter ouer dink daaraan om hul eie opinie te sluk en eerder hul lewe neer te lê en in hul kinders se stokperdjies betrokke te raak? Is daar areas in jou kinders se lewens waar jy betrokke kan raak en jou kinders inspireer en sodoende ‘n sterker verhouding te bou?

Tuesday, August 28, 2012

"Moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê"


 
O genade! Daar praat ek my mond verby! Ek wag in spanning om te sien wat die kind se reaksie is op die woorde wat sopas uit my mond gevlieg het. Ek het myself vergeet en dit was uit voor ek myself kon keer. Gaan sy dit herhaal?! Ek wag...  want kinders is mos sponsies.

Het julle al so tipe ervaring gehad? Ek moet myself fyn dophou en gereeld selfondersoek instel om te kyk wat in my lewe moet verander sodat ek nie ‘n hindernis is op die geloofspad van ‘n kind nie, en nee, dit is nie maklik nie. God beloof wel in Filippense 4:13 dat ek dit deur Sy krag kan doen. Ouers is ook net mense, maar ons moet ook onthou dat ons nie net altyd ons kinders kan kritiseer oor dinge wat in hulle lewens moet verander as ons nie bereid is om eers na onsself te kyk nie. God stel meer belang in jou kind se karakter as wat jy doen, maar Hy stel ook belang in jou karakter en watse voorbeeld jy vir jou kinders is. Kyk bietjie in jou eie lewe. Watse gewoontes, verslawings en gedrag kan jy in jou eie lewe identifiseer wat jy nie in jou kind se lewe sal wil sien nie?  Glo jy dat jou swakpunte ook jou kinders sin sal word?

Wednesday, August 22, 2012

Gebed, gemik op geluk of groei?


" For years, like any responsible Christian parent, I prayed daily for my two children, Aubrey and Aaron. I prayed for God's blessing and protection throughout their days. I prayed for them to be happy. I asked God to help them through diffivult times and to help them make wise choices. My prayers were regulat, heartfelt, and for the most part, pedestrian and repetitive.

I wanted more than that, however." (Bob Hostetler)

Ons wil almal graag vir ons kinders bid, of dit ons eie kinders is of die kinders met wie ons 'n pad stap in Christus. Bob Hostetler 'n pastoor van Amerika gee 'n voorbeeld hier van 'n maklik manier hoe om vir ons kinders te bid. (Volg die Link bo-aan die bladsy)

Monday, August 20, 2012

Kinders hoef nie 'gelukkig' te wees nie, maar wel heilig...


Juffrou, ek het gister middag ballet gedoen en vanmiddag het ek hokkie en dan perdry en ek het hierdie naweek ‘n groot model kompetisie en, en, en...”

Hierdie is algemene stories by die skool waar ek bedien, en dan dink ek net: Wie doen dit? Wie ry heeldag rond vir balletklas, perdry, hokkie, model en wie weet wat nog? My ma sou net gesê het, “Nee”.  Maar hierdie beskryf hoe ‘n middag lyk vir ten minste drie kwart van die ouers wat ek ken.

Chip Ingram vertel in sy boek dat al hierdie ekstra buitemuurse aktiwiteite goed is vir ons kinders, maar dat dit nie die doel van ouerskap is nie. God vertrou ons met ons kinders om vir hulle ‘n voorbeeld te stel van hoe ‘n mens lyk wat voluit vir Christus leef; om in hulle ‘n passie te kweek vir Christus wat hulle ‘n leeftyd sal hou. Ouerskap gaan nie daaroor om jou kinders gelukkig te maak nie, maar om hulle te leer om heilig te wees. Uitgesit vir God. Dit gesê, sal ouers wat kies om hul kinders op so wyse groot te maak vinnig gekritiseer word, want “jy ontneem jou kinders”.

‘n Vraag kom dan na my toe, as daardie kind na aan die Here leef, is dit dan nie God wat die deure sal oopmaak nie, of hoe?  Wat is julle ervarings?  Wat dink julle van die stelling dat kinders nie gelukkig hoef te wees nie, maar wel heilig?

Groete,
Astri

Sunday, August 12, 2012

Moenie dat vrees heers nie

Dit is maklik om met vandag se samelewing, onwetend kinders vanuit vrees groot te maak. Reëls en perke word soos mure om die kind gebou en hul word soms selfs verbied om met sekere mense of aktiwiteite te assosieër. Dit is die ouer se manier om die kind te beskerm van enige seerkry.  
Ouers wat so oorbeskermend optree leer kinders om vanuit ‘n negatiewe perspektief na die wêreld te kyk en wantroue word ook so gekweek. Kinders word nie die geleentheid gebied om die karakter eienskappe, wat jy graag sou wou hê jou kind moet besit, aan te leer nie. Hierdie kinders word geleer om afhanklik te wees van hul ouers om hul te beskerm van die wêreld. Dit lei daartoe dat hulle nooit self leer hoe om in positiewe geloof van God afhanklik te wees nie. 
Dit is nutteloos om vanuit vrees te regeer en alle gevare wat die lewe dalk mag in hou te probeer keer. Ons het God se perspektief op ons kinders nodig en omdat Hy self ook ons Hemelse Vader is, is Hy die beste bron om by te leer.  Ons kyk volgende week na vier spesifieke grondebginsels wat ons moet verstaan om ons en ons kinders te help.

Groete,
Astri

Thursday, August 2, 2012

Ouerskap is nie vir "sissies" nie!

Om ‘n kind te wees in vandag se samelewing is nie maklik nie. Dit gesê is ouerskap in vandag se samelewing ook nie vir ‘sissies’ nie. Families lyk nie meer soos wat dit destyds gelyk het nie; meeste gesinne vandag is saamgestelde gesinne of enkelouer-gesinne en dit raak net moeiliker om almal aan die gang te hou. Die lokvalle in vandag se tyd is net soveel meer en ons moet vandag se kinders se leefwêreld verstaan.

Dit verg finominale wysheid en dissipline om jou kinders vir vandag se lewe toe te rus. Konstante verandering en onsekerheid, Mixit, BBM, oordosisse informasie en maklike toegang tot hierdie informasie, groepsdruk, dwelms en seksuele losbandigheid is alles dinge wat kinders vandag in die oë kyk. Om kinders te leer om ‘n lewe te lei wat God behaag en gefokus op Christus te bly in alle omstandighede is nòg moeiliker en dan word die vraag gevra: Is dit nog moontlik vir jou kinders om op ‘n godvresende, verantwoordelik en eerbare wyse te leef in so ‘n chaotiese wêreld? Is daar hoop om ‘n effektiewe en suksesvolle ouer te wees in vandag se tyd?


Die antwoord is “absoluut”! Daar is altyd hoop, want God het ‘n plan! Ons is nie gemaak om hierdie pad op ons eie te stap nie en daarom gaan ons in die volgende paar maande deur Chip Ingram se boek “Suksesvolle ouerskap in ‘n stukkende wêreld” werk. Ons nooi elke ouer graag uit om weekliks saam met ons hierdie reis aan te pak terwyl ons kyk na hoe ons die beginsels wat in die boek bespreek word in ons gesinne kan implementeer om God te eer.

Vir meer inligting oor Chip Ingram.

Groete
Astri Saestad

Thursday, July 26, 2012


Ons visie is...
Om kinders te bereik en toe te rus om ons stad en nasies te verander na ‘n plek waar God regeer. Ons is hier om kinders te bedien en te begelei in die ontdekking van wie hulle in Christus is. Ons droom is om kinders te help om hul gawes en bedieninge te ontdek, en ‘n impak  in die gemeenskap en die koninkryk te maak.